|
 Angie Motshekga Uit die dieptes van die rommelhoop wat voorheen die regering se skoolstelsel was klink nou oproepe op om alternatiewe opsies nekom te draai. Moeders wat ook intellektuele en sakeleiers is, soos Mampela Ramphele en Wendy Luhabe, verklaar egter dat ons skole nou swakker is as die destydse Bantoe-onderwys.
Hulle behoort te weet. Bantoe-onderwys is die onderwys wat hulle gekry het, voor 1976.
Maar Angie Motshekga, LUR vir Onderwys in Gauteng, wil hê dat alle tuisskolers gekwalifiseerde en gesertifiseerde onderwysers moet wees (van wie daar daagliks minder in die skole is), dat alle tuisonderwys streng ooreenkomstig die gediskrediteerde kurrikulum vir openbare skole moet wees en dat alle tuisleerders onderrig moet word aan die hand van leerprogamme wat by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-Owerheid (SAKO) geregistreer is. Dit is slegs sommige van die "riglyne en kriteria" wat die LUR op tuisskolers in Gauteng wil afdwing.
Op 20 Augustus het die LUR vir Onderwys in Gauteng, in 'n Buitengewone Provinsiale Koerant, die publiek versoek om kommentaar te lewer op haar voorgestelde riglyne en kriteria vir die registrasie van tuisleerders. Die Pestalozzi Trust het kommentaar namens sy lede ingedien.
In die algemeen is die Trust baie tevrede met die voorstelle. Dit sal dit baie maklik maak om sy lede te verdedig indien hulle weens hul tuisonderwys voor die hof gedaag word.
Skakels:
Voorgestelde riglyne en kriteria
Kommentaar deur die Pestalozzi Trust
Die voorstelle sal dit maklik maak om tuisskolers te verdedig omdat dit so blatant onbillik en onregverdigbaar is, en omdat dit daarom kwalik in die howe afgedwing kan word. Byvoorbeeld: Na dekades se navorsing in verskeie lande is daar nog geen bewys gevind dat kinders wat tuisonderwys ontvang van ouers wat gekwalifiseerde onderwysers is enigsins beter presteer as kinders wat tuisonderwys ontvang van ouers wat nie onderwysers is nie (of, trouens, van ouers wat self nie Matriek voltooi het nie!)
Aangesien die onbillike en onregverdigbare voorgestelde maatreëls dien as voorwaarde vir die registrasie van leerders om tuisonderwys te ontvang, maak dit effektief ook die vereiste dat tuisleerders geregistreer moet word onafdwingbaar. Daar kan egter verwag word dat die vlak van teistering wat tuisskolers moet verduur kan styg.
Dit is die tweede keer vanjaar dat die owerheid probeer om tuisonderwys hok te slaan. In Mei het die nasionale onderwysminister probeer om dit onmoontlik te maak vir private kandidate om matriek te skryf. Protes deur tuisskolers en ander belanghebbendes het haar oortuig om daardie besluit ten minste voorlopig te wysig.
Die Trust en die Vereniging vir Tuisonderwys het ook herhaaldelik en gereeld geleentheid versoek om tuisonderwysbeleid met die Gautengse departement te bespreek. Na dertien jaar wag hulle steeds op so 'n geleentheid.
Daarom het die Trust die LUR ingelig dat, as die finale weergawe van die riglyne en kriteria 'n nadelige uitwerking op die regte van sy lidgesinne het, die Trust die maatreëls onverwyld voor 'n bevoegde hof op hersiening sal neem. Dit behoort die LUR die geleentheid te gee om die maatreëls en die redes daarvoor te onderwerp aan die kritiese oordeel van deskundiges voor 'n openbare en onpartydige tribunaal.
Met ander woorde: Die beleid oor tuisonderwys in Gauteng sal waarskynlik in die howe aanmekaargetimmer word, in plaas van in die kantoor van die LUR.
Desnieteenstaande het die Trust sy aanbod herhaal om hulp te verleen in enige bona fide-proses om billike en regverdigbare beleid oor tuisonderwys te formuleer. Leendert van Oostrum, bestuurder van die Pestalozzi Trust, sê dat Suid-Afrikaners dringend aangemeodig moet word om alle alternatiewe onderwysopsies te ondersoek te einde die effek van die ineenstorting van die staatskole teen te werk.
Van Oostrum, wat so pas teruggekeer het van 'n internasionale konferensie oor tuisonderwys, meld dat staatskoolstelsels hulle wêreldwyd in 'n toestand van terminale verval bevind. En die regerings het geen antwoorde nie.
"Dit is moeilik om te glo, maar ons het op die punt gekom waar die amptenary wat 'n werkende onderwysstelsel ten gronde gerig het nou dieselfde strukture wat die openbare onderwys verwurg het wil afdwing op die oorblyfsels van goeie onderwys in die land", redeneer Van Oostrum: "Ons grondwet en die internasionale instrumente van mensregte, soos die VN we Konvensie oor Kinderregte, verbied hulle om daardie magte uit te oefen. Hulle roof bloot die regmatige gesag van gesinne en die burgerlike samelewing, en ons laat dit oogluikend toe!"
"Dit het tyd geword dat die burgerlike samelewing sy regmatige rol in die onderwys terugneem. Progressiewe regerings verstaan dit en moedig juis die ontginning van alternatiewe onderwysvorme aan ter wille van die kinders en die toekoms", sê Van Oostrum.
|