|
Tuisleerders was die groep kandidate met die beste gemiddelde prestasie in die matriekeksamen van die BCVO.
Mediavrystelling deur die Pestalozzi Trust nasionale sentrum vir tuisonderwys Tuisleerders was die groep kandidate met die beste gemiddelde prestasie in die matriekeksamen van die BCVO. Vanjaar is die tweede jaar wat tuisleerders aanvaar is vir die matriekeksamen van die BCVO. Dit is ‘n ten volle geakkrediteerde private eksamenraad wat fokus op Christelike waardes en Afrikaanse kultuurerfenis. Die eksamen het vinnig gewild geword onder Afrikaanssprekende tuisleerders en 43 kandidate het vanjaar die eksamen voltooi. Al hierdie kandidate het met behulp van Impak Onderwys vir die eksamen voorberei en Mnr Pieter Botha, bestuurder van Impak Onderwys is baie tevrede met die resultate van die tuisleerders. Volgens Botha het die tuisleerders ‘n slaagsyfer van 93% behaal. Dit is beduidend hoër as die slaagsyfer van 58% wat behaal is deur vergelykbare leerders wat dieselfde Impakprogram in private skole gevolg het en soortgelyk aan die slaagsyfer van 92% wat kandidate uit CVO-skole in dieselfde eksamen behaal het maar wat die BCVO se eie programme gevolg het. Die groep tuisleerders het daarbenewens al die onderskeidings opgelewer wat deur kandidate van Impak Onderwys ingepalm is, en hulle het 50% meer onderskeidings per kandidaat verwerf as kandidate uit CVO-skole. Volgens Leendert van Oostrum van die Pestalozzi Trust bied hierdie uitslae goeie geleentheid vir vergelyking van die prestasie van tuisleerders met die prestasie van skoliere. Hoewel enkele kandidate die eksamen in Engels afgelê het, was al die groepe oorwegend Afrikaanstalig en uit middelklasgesinne met ‘n goeie mengsel van stedelinge en plattelanders. Etlike honderde tuisleerders het vanjaar matriek van ander Suid-Afrikaanse en internasionale eksamenrade afgelê. In hierdie eksamen was dit egter moontlik om baie ekonomiese en sosiale faktore uit te skakel wat moontlik die uitslae kon beïnvloed. Aangesien die groep tuisleerders gemiddeld die beste van die drie vergelykbare groepe kandidate presteer het kan ‘n mens aflei dat tuisonderwys ‘n baie suksesvolle onderwysopsie vir Afrikaners is, meen Van Oostrum. Hy is van oordeel dat navorsing uit ander lande aandui dat die voordele van tuisonderwys ook vir ander bevolkingsgroepe in die land behoort te geld. Hy verwelkom ook die aanduidings dat die eksamen in die toekoms ook in Engels aangebied kan word. Vir verdere inligting, kontak Leendert van Oostrum 012 330 1337 |